Dagstappers ook Welkom!

Die Mount Komati - Iets van alles staproetes

Opsomming:

Die natuurplaas en staproetes is geleë tussen Machadodorp en Badplaas op die Drakensbergeskarp van Mpumalanga, wat beteken dat ons in 'n wonderskone omgewing, maar tog gerieflik naby aan Gauteng en Limpopo, selfs KZN geleë is.
 

Pragtige, gerieflike klip met grasdak chalets. Ten volle toegeruste basiskamp. Sommige chalets met linne, ander slegs paslakens. Plek vir 20 gaste.
Dag 1: Rondomklip 13.5 km, 8 ure. Matig tot moeilike gradering, afhangend van ouderdom en stapfiksheid. Gereëlde stappers diep in hulle 60's voltooi roete gemaklik, maar minder fikse, ongereëlde of ouer stappers mag swaar kry. 600 m hoogteverskil. Groot verskeidenheid topografie, sonderlinge en skaars wild, voëls en plantegroei. waterstroompies, pragtige tonele en uitsigte
Dag 2: Klein Paradys 4.5 km maklik tot matig. Verbasend anders as Dag 1. Stroompies, watervalletjies en eindig al langs die Komatirivier

Volledige inligting:
Basiskamp:
Daar is twee sirkelroetes wat beide vanaf die basiskamp vertrek. Stappers keer dus na elke stap terug na dieselfde kamp.
Ons akkomodasie is ook heel fêncy, in stappersterme. Die chalets is gesofistikeerde klip en grasdak eenhede met Eskomkrag, linne (in sekere gevalle), breekware, potte en panne wat eintlik ons lodge vir vlieghengelaars en soortgelyk was, maar effens aangepas is om ook vir die stappersmark voorsiening te maak.

Om ons staproete te ondersteun het ons tydelik drie van die huisies (Mojaji, Idube & Wildebees) in dorm-tipe kamers omskep tot tyd en wyl die stapkampie opgerig is.
Mojaji het 2, en Idube en Wildebees elk 3 stapelbedjies, standaard enkelbedgrootte (188 x 91cm) met kwaliteit hoëdigtheid Ericssons matrasse van 150mm dik en oorgetrek met netjiese paslakens of linne as opsie.
Tarentaal chalet is 'n luukser familie tiepe eenheid met hoofslaapkamer met dubbelbed, 'n oopplankamer met 2 enkelbeddens - als met linne en gesig- & storthanddoeke - 'n eie badkamer met stort, toilet en wasbak, 'n goed toegeruste kombuis met breekware en basiese kookware, 'n eetkamer en houtstoepie wat oor die tuin, Komatirivier en Skurweberg uitkyk.
Die kampie bied slaapplek aan 20 gaste totaal.
Kontak ons asseblief direk indien u u eie tente of kampeerwaentjies wil gebruik.


Dag 1

Die Rondomklip-roete, is 'n lekker eerste dag stap, omtrent 13.5km, met 'n reuse verskeidenheid in topografie, landskap, plante-, voël- en dierelewe.
Trek weg op die laagste punt op die plaas langs die Komatirivieroewer, 1230m bo seevlak, dan deur golwende heuwels en grasvlaktes met middelveldbos, kronkel deur oeroue klipkrale uit verskeie eras, oor vlaktes heen waar vlakte- en boswild soos bv bosbokkies, koedoes, zebras en wildebeeste, uitsonderlike voëlspesies soos byvoorbeeld Knysna loeries, katakoeroes, bosloeries, kalkoen ibisse en kransaasvoëls gesien kan word. Sonderlinge en skaars plantegroei wissel tonele op gereëlde maat af. Bewonder 'n enorme pragtige ou Kiepersolboom, of raak verlore in wat herhinner aan 'n toneel uit die rolprent, AVATAR. Hierdie roete neem mens se verbeelding voorwaar op 'n tog van sy eie...

Dan is dit deur klofies met oulike waterstroompies en watervalletjies tot 'n lang stuk waar mens reg teen die voet van die aasvoëlkrans kronkel waarna mens dan tot bo op die eskarp stap om die asemrowende vergesigte te sien oor valleie en dale heen, amper tot in Swaziland! Kyk uit vir onder andere die baie skaars oorbietjies, ribbokkies en klipspringertjies! Die roete krul dan deur 'n doolhof van ongelooflike mooi verweerde sandsteenrotsformasies tot by die hoogste punt op die plaas, 1830m bo seevlak voordat hy bo langs die mooie Komati-skeurvallei sy draaie deur golwende hoëveld kortgrasland maak om dan weer af te sig-sag, sig-sag totdat mens weer langs die Komati is om lekker in 'n groot seekoeigat te swem, so 500m van die kampie af.

Die roete word gereken as "matig tot moeilik met tegniese aspekte". Matig, omdat dit 'n redellik lang roete is met 'n hoogteverskil van 600m en 'n totale klim van 865m. Moeilik, as jy nie fiks is of 'n gereelde stapper is nie. Met tegniese aspekte, omdat daar soms oor klippe of onderdeur stompe geklim en geklouter word, maar daar is geen kettinglere of ander vreesaanjaende hindernisse nie, net lekker natuurlike avontuur! 'n Redelike mate van fiksheid word wel vereis. Stappers voltooi die roete normaalweg in 6 tot 8 ure. Alhoewel die jong klomp dag een sommer tjop-tjop afrandsel, mag ongereelde stappers en onfikses dit na 'n ruk nie meer so baie geniet nie, of selfs heelwat sukkel. Om dinge in perspektief te stel, gereelde, fikse stappers van diep in hulle 60s, en selfs 70s, stap gereeld by ons en voltooi die roete gemaklik en geniet hom erg.

Dag 2
Die Klein Paradys-roete, is 'n lekker kort roete van omtrent 4.5km. Dit gee mens genoeg kans om 'n lekker laatslapie in te kry, op te staan, die roete te geniet en dan op te pak om teen middagtyd weer terug huistoe te ry. Dag twee neem mens weer deur verbasend anderse topografie as Dag 1 en eindig dié keer so 100m stroomaf van die kampie waar mens ook op die rotse kan skoen uitskop en 'n plons in die poel neem of jou rug masseer in die natuurlike jakoetsie sodat jy môre weer springlewendig by die werk kan voel! Die roete neem tussen 1.5 & 3 ure om te voltooi.

Die Omgewing
Die plaas lê in die Drakensbergeskarpvallei en het 'n baie gematigde klimaat; effens warmer as Pretoria en effens koeler as Baberton wat beteken dat ons lekker warm sonskyndae het, maar koel genoeg is om nie 'n malarea area te wees nie en jy ook nie 'n krokodil of seekoei in die rivier sal teëkom nie! Windstil aande sorg vir fantastiese buitebraai weer amper 350 dae van die jaar, sélfs in die koue wintermaande. Prentjies van die plaas en chaletjies is
hier en ook op ons Facebook Page te siene, krap gerus rond, maar kom kyk liefs sélf!

Groenvlagstatus
Beide roetes is deur een van die legendariese roetekenners uitgelê en professioneel gebou en het reeds groenvlagstatus ontvang.
Deeglike onderhoud word ook op 'n gereelde basis gedoen.
Die roetes is goed gemerk sodat stappers nie verdwaal nie.

Alternatiewe 7-Dag stap!
Nuus is dat ons bure, die welbekende Num-Num, ons genader het om by hulle aan te sluit om nog 'n uitsonderlike dimense aan die roete te verleen. Stappers bespreek beide roetes afsonderlik, maar met opvolgende datums om 'n sesde, selfs sewende dag by die roetes te las. Daar is selfs 'n opsie om nog 'n verdere 2 dae op 'n derde plaas ook te stap! Nouja, vir dié wat kans sien daarvoor, ons verwelkom julle graag!

Geriewe:
Daar is 'n volledig toegeruste kombuisie met potte, panne, kombuisgerei, eetgerei, gasstoof & -oond, mikrogolf, yskaste, kisvrieskaste ens.
Stappers bring slegs eie slaapgoed, stapgoed, sitgoed* & álle consumables. (kos, drankies, sepies, blitz, vuurhoutjies ens)
*LW: Daar word geen voorsiening vir stoele gemaak nie, elke gas moet asseblief sy eie kampstoel saambring. Dit kan ook van ons gehuur word, kyk hieronder by Opsionele ekstras.
Toiletpapier word voorsien.
Indien u die boskampie privaat wil neem, moet 'n minimum van 12 gaste bespreek. Vra asseblief spesifiek hiervoor. Normale tarriewe geld.
Kleiner groepe mag dus kampie met ander stappers deel, maar elke groep sal sy eie hut of chalet hê.
Slegs die gemeenskaplike kombuis, braaigeriewe en ablusieblok word dan gedeel.

 

Tariewe
Standaard tariewe:

Kliek HIER

Specials:
Doen
HIER navraag!


Opsionele ekstras:
Black Wattle hout beskikbaar @ R15.00 per bondel.
Bring asb eie "Charca en Blitz".
Kampstoele kan by ons gehuur word @ R30-00 per stoel, R300-00 deposito. Bespreek asb vroegtydig sodat ons dit na die lodge kan vervoer.
Skoonmakers is teen 'n ekstra dagtarrief beskikbaar, bespreek asseblief vroegtydig.
'n Beperkte aantal linne soos bv duvets, komberse, kussings, stort- en gesighanddoeke is teen 'n ekstra tarrief beskikbaar, bespreek asseblief vroegtydig.

 

Dagbesoekers:
Dagstappers welkom! Ongelukkig geen ander dagbesoekers nie.
R70pppd vir enige van die roetes betaalbaar voor u begin stap.
Dagstappers kan nie net opdaag nie en moét met die bestuurder kontak maak alvorens na Mount Komati vertrek word. Skakel 082 950 2417 om die dagstap te bevestig en seker te maak dat u toegang tot die roete sal verkry.
Die vrywaringsform moet voltooi word alvorens met die stap begin word.
Dagstappers is welkom om "Die Bosvark", ons Afrika-styl boma te gebruik waar u kan vuurmaak en braai. Bring asseblief alle braaigereedskap, kosse, kampstoele ensovoorts saam.
Stinkhout, die ablussieblok, is ook tot julle beskikking.
Blackwattle hout is @ R15 per bondeltjie te koop.



Kontak ons gerus vir enige navrae of besprekingsversoeke.
Ons sien uit om julle hier by ons te verwelkom!